Koerde in Iran hou eie referendum

Die Koerdiese volk in Irak het besluit om in September ’n eie referendum te hou wat volgens meningsvormers afstuur op ’n eis om onafhanklikheid.

Alhoewel die referendum se hoofoogmerk is om sterker bedingingsmag te bekom met die owerheid in Bagdad, word dit ook gesien as die voorloper tot eise vir selfbeskikking.

Die Koerde wat in ’n “afsonderlike” streek gevestig is, het aangekondig dat ’n onafhanklike referendum in September gehou gaan word.

Dit is ’n langverwagte droom van die Koerdiese volk wat in die afgelope jare ’n groot bydrae gelewer het om terroriste te beveg, en het waarskynlik met hul kundigheid die stryd vir Irak suksesvol gevoer.

Masoud Barzani, die president van die Koerdiese streeksregering, het op die sosiale netwerk aangekondig dat die referendum op 25 September vanjaar gehou sal word.

Die Koerdiese streek het reeds sterk eienskappe van ’n eie staat, aangesien uitvoerende magte en juridiese- sowel as beveiligingsmagte onder hulle eie beheer is.

Die vraag wat op die stembrief sal verskyn is eenvoudig:

Ondersteun u ’n onafhanklike Koerdiese staat?

’n Woordvoerder van Irak het egter in reaksie daarop gesê daar bestaan geen moontlikheid dat die regering die uitslag van die referendum sal aanvaar en toestem dat ’n onafhanklike Koerdiese staat ontwikkel word nie.

Foto – President Masoud Barzani