Kajuitpersoneel kwaad oor tenders en te min kos

Die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging, wat sowat 1 300 SAL werknemers verteenwoordig, is woedend op die regering omdat hulle nie ag geslaan het op berigte van tender onreëlmatighede ten bedrae van R1,8 miljard by SAL nie.  Skynbaar verteenwoordig dit 34 kontrakte.

Die unie sê dit is onder die aandag van die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan asook sy opvolger, Malusi Gigaba gebring, sonder enige reaksie. Hulle maak dit nou openbaar nadat daar aan die personeel gesê is dat die lugdiens geen geld het vir ‘n ete toelae van R2  200 op internasionale vlugte nie.  Die unie se president, Zazi Nsibanyoni-Mugambi, sê SAL maak baie geld, aangesien vlugte vol geboek is. Geld word egter deur korrupsie vermors.

Dit het intussen bekend geword dat SAL weer ‘n reuse verlies gemaak het.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula, sit intussen met ‘n rooi gesig nadat hy op Twitter beweer het dat SAL 98% van sy uitgawes spandeer het op wit beheerde maatskappye, en hy het dit as ‘n veragtelike misdaad teen swart sakelui beskryf. Volgens hom is dit ook “die bestaan van wit monopolie in volle kleur”.

SAL se woordvoerder, Tlali Tlali, sê egter dat van hulle R14,9 miljard se plaaslike aankope, R14,2 miljard, oftewel 95%, gedoen is by SEB-maatskappye, ingevolge die vereistes van die breëbasis swart bemagtiging voorskrifte.

Waarnemers begin nou glo dat hierdie situasie dalk die rede kan wees vir SAL se probleme, omdat tenders te hoog is en die verliese dreineer.