Joe Slovo brand ook

Nog ‘n gemeenskapsaal het in vlamme opgegaan nadat protesteerders die grens van barbaarsheid oorgesteek het en die saal aan die brand gesteek het.

Nadat Bloemfontein se stadsaal verlede week verwoes is, was dit hierdie keer die beurt van die Joe Slovo gemeenskapsaal in Milnerton, Kaapstad.

‘n Inwoner met besondere insig, het aan die media gesê dat om ‘n saal te brand, geen oplossings gaan bied nie. Trouens, die gemeenskap sit nou met hulle hande in hulle hare, omdat kinders in die skoolvakansie daar besig gehou en gevoed is terwyl ouers moet werk. Nou is daardie gemeenskapsfasiliteit vernietig.

Die saal is deur onwettige plakkers aan die brand gesteek. Hulle het onwettig sinkhutte opgerig op ‘n skoolterrein. Toe die onwettige strukture deur die owerheid verwyder is, het hulle hul woede op die saal uitgehaal.

Twee ander geboue is ook aan die brand gesteek en voertuie van onskuldige verbygangers is onder die klippe gesteek.