Italië red banke met miljarde

Die Italiaanse regering het die afgelope naweek ’n “nood wet” goedgekeur vir die redding van minstens twee banke wat in ’n finansiële krisis is.

Die twee instellings, Banca Popolare di Vicenza en Veneto Banca se sake loop skeef wat premier Paolo Gentiloni tot so ’n besluit gedwing het.

Volgens die premier sal die regering soveel as 17 miljard euro beskikbaar stel om die twee banke van ondergang te red.

Die premier het in ’n verklaring gesê die belangrikheid van die noodplan word beklemtoon deur die wye steun wat dit geniet in die parlement.

Verlede Vrydag het die Europese Sentrale Bank (ECB) vasgestel dat daar geen moontlikheid bestaan om die twee banke van bankrotskap te red nie.

Die Italiaanse bankiers, Intesa Sanpaolo het aangekondig dat hulle die twee banke sal oorneem, en die regering se “nood wet” maak voorsiening dat so ’n oorname moontlik gemaak word.

Die regering sal ter aanvang sowat 5 miljard euro beskikbaar stel om die oorname te bespoedig, maar sal uiteindelik 17 miljard euro beskikbaar stel om alle risiko’s te dek.