Hoenderboere weer hard getref

Die pluimveebedryf word tans weer bedreig nadat daar op twee hoenderplase voëlgriep aangemeld is.

Dit volg nadat die pluimveebedryf reeds ernstige terugslae beleef het nadat die regering nie behoorlike beheer op ingevoerde hoendervleis uitgeoefen het nie, met die gevolg dat hoendervleis, wat bowendien met soutwater ingespuit is, vanuit die buiteland gestort is in Suid-Afrika. Verskeie groot hoenderbedrywe moes as gevolg daarvan afskaal en etlike duisende werkers het daardeur hulle werk verloor.

Met die uitbreek van die hoogs aansteeklike voëlgriep kan die bedryf weer groot skade ly. Op een plaas alleen moet 25 000 lêhenne van kant gemaak word, en daardie vleis is nie vir enige gebruik geskik nie.

Die Departement van Landbou, Visserye en Bosbou het ‘n verbod op die verkoop van lewende hoenders ingestel wat voorlopig vir twee weke sal geld.  Enige hoendervrektes moet by die naaste staatsveearts aangemeld word.