Hewige ontploffing ruk Afghanistan

Een van die hewigste bomontploffings het die hoofstad van Afghanistan geskud toe dit naby die presidensiële paleis en buitelandse ambassades afgegaan het en groot skade aan geboue en voertuie in die omgewing veroorsaak het.

Ooggetuies beweer dat die reuse ontploffing vlamme en ’n rook massa in Kaboel laat opstyg het wat nog nie van soortgelyke omvang gesien is nie.

Afghaanse polisie het later gesê die ontploffing is veroorsaak deur ’n geplante motorbom wat naby die Duitse ambassade afgegaan het.

Verskillende verslae is ontvang wat aandui dat 95 mense omgekom het in die ontploffing, en meer as 360 mense het beserings opgedoen.

Verskeie aanvalle is in die afgelope maande deur terroriste uitgevoer in Kaboel, maar die ontploffing van Woensdagoggend is die grootste wat die jaar in die stad uitgevoer is deur die terroriste.

Die vermoede bestaan dat die aanval deur vegters van die Islamitiese Staat uitgevoer is in opdrag van die leiers wat gesê het “vernietigende aanvalle” word beplan vir die volgende week.