Grondwetlike Hof vra ondersoek aan

Die Grondwetlike Hof het ‘n geregtelike ondersoek gelas in die sosiale toelae debakel om te bepaal of minister Bathabile Dlamini die hof mislei het in haar verklarings.

‘n “Skeidsregter” sal aangestel word om die saak te ondersoek waarna daar verslag gelewer sal word aan die hof.  Die skeidsregter sal moet bepaal  of Dlamini haar persoonlike verantwoordelikhede  in die krisis probeer verberg het om so verantwoording te vermy.

Twee senior beamptes, Thokozani Magwaza en Zane Dangor, beweer dat Dlamini oor hul hoofde gegaan het en persoonlik beheer oorgeneem het om die nuwe betalingstelsel in werking te stel.  Sy het reeds in die openbaar om verskoning gevra vir die gemors rondom die betaling van die toelaes maar later haar verskoning  gewysig, om sodoende in wese verantwoording vir haar dade te ontken.