Geesdrif vir Die Vryburger veiling

Kort nadat Die Vryburger verlede week planne vir sy veiling op 5 Augustus in Pretoria bekend gemaak het, het mense al kontak gemaak met aanbiedinge van interessante goedere wat hulle aanbied vir die veiling.

Die veiling word beplan om fondse te bekom vir bepaalde opwindende uitbreidings aan Die Vryburger.

Mnr. Joseph Kidson, wat die reëlings vir die veiling ko-ordineer, sê hy is al gekontak deur mense wat vra dat hy goedere vir die veiling by hulle moet kom oplaai, en hy doen dit met groot plesier.

Verlede week is ‘n antieke koper brandblusser ontvang, en hierdie week is ‘n borsbeeld van genl. JBM Hertzog vir die veiling aangebied.

Die veiling vind op 5 Augustus plaas op Oranjekas se perseel op die hoek van Laseandrastraat en Collinslaan in Moregloed, Pretoria plaas, vanaf 10 vm. Volkshulp 2000 het aangebied om motorwagte te voorsien, terwyl daar verversings soos pannekoek en worsbroodjies en koffie en koeldrank sal wees, om die dag ook ‘n aangename atmosfeer te gee.

Vir enige besonderhede rakende skenkings en selfs borgskappe vir die dag, kan mnr. Kidson geskakel word by 072 816 6864.

Foto: Die borsbeeld van genl. JBM Hertzog sal ook opgeveil word.