Eskom soek 19,9% tariefverhoging

Die kragverskaffer Eskom het berigte bevestig dat die raad Nersa gaan nader met ‘n versoek dat ‘n verhoging van 19,9% toegestaan moet word vanaf 1 April 2018.

Volgens dokumente het Eskom ook gevra dat munisipaliteite 27,3% meer moet betaal vir krag vanaf 1 April 2018.

Dit blyk nie ‘n April grap te wees nie en Nersa se reaksie word afgewag.

Eskom se verhoging is aansienlik meer as die amptelike inflasiesyfer, wat beteken dat kragverbruikers verder verarm word.

Boonop is daar steeds vrae oor Eskom se hantering van finansies, en Brian Molefe se aanspraak op ‘n R30 miljoen goue handdruk sal ook iewers gefinansier moet word.

Verbruikers is daarom toenemend besig om te kyk en oor te skakel na alternatiewe elektrisiteit uit wind- en sonkrag en om sodoende van die Eskom netwerk  los te kom.

Veral direkte gebruikers van Eskom, soos boere, word hard geslaan deur Eskom se stelsel van vaste heffings.