Een van vervolgde SAUK 8 sterf

Die 32-jarige Suna Venter is dood in haar woonstel in Johannesburg aangetref.

Sy het sedert verlede jaar veral bekendheid verwerf nadat sy opgestaan het teen die SAUK bestuur se omstrede opdrag dat geen verslaggewing oor gewelddadige betogings gedoen mag word by die SAUK nie.

Venter en sewe van haar kollegas het daarteen beswaar gemaak, met die gevolg dat hulle geskors is. Later is die SAUK deur ‘n regsgeding opdrag gegee om Venter weer aan te stel.

Sy was ook ‘n dapper joernalis wat belang gestel het in die buiteland, en sy het verskeie oorloggeteisterde gebiede, wat terroristeneste insluit, besoek om verslag daaroor te doen.

Sy is onlangs gediagnoseer met ‘n toestand bekend as streskardiomiopatie of “gebrokehart-sindroom”. Dit word glo veroorsaak deur trauma en lang periodes van onnatuurlike stres.

Sy het die laaste tyd verskeie doodsdreigemente ontvang, sy is met ‘n windbuks in die gesig geskiet en haar motor is verskeie kere gesaboteer.

Alhoewel sy die spanning waarskynlik opgedoen het tydens haar dispuut met die SAUK, sal niemand waarskynlik vir haar dood vervolg kan word nie.