Duiwe – Wedvlugte

Duiweboere het sedert Oktober 2016 (aan die einde van die wedvlugseisoen) hulle duiwe goed versorg. Hulle het die beste graan met die hoogste voedingswaarde voorgesit wat vitamines en minerale ingesluit het. Daarby is na die inwendige en uitwendige gesondheid van die duiwe omgesien.

Die duiwe het gedurende hierdie tyd, genoem die afseisoen, pragtig verveer en nuwe vere het verlede jaar se vere met ‘n streelsagte verebedekking vervang. Gesonde vere is maklik om uit te ken omdat die duiwe gou droog word nadat hulle gebad het. Dit is as gevolg van die gehalte vere en die geringe olielagie wat in die vere opgeneem is. ‘n Duif het ‘n olieklier aan die basis van sy stert wat hy na sy vere versprei deur daarop te pik.

In die tydperk middel April tot einde Mei was die wedvlugduiwe vanaf sowat 5 kilometer geleidelik tot ongeveer 300 kilometer van die huis af met kleiner en groter voertuie weggeneem en vrygelaat vir oefenvlugte om hulle fiks te kry vir die wedvlugseisoen wat voorlê. Die duiwe is oordeelkundig fiks gekry vir die eerste wedvlug wat (vir Pretoria) op 3 Junie 2017 van Ventersburg af gevlieg sal word. In ‘n reguitlyn is die gemiddelde afstand vir alle duiwe 280 kilometer wat hulle in ongeveer drie en ‘n half ure aflê.

Die wedvlugafstande word meestal elke Saterdag geleidelik verhoog en duiweboere hou hulle meer ervare duiwe gewoonlik terug vir die langer afstande. Inagnemend die afstande en die moeilikheidsgraad van die wedvlugte word deelnemende duiwe tussenin voldoende  ruskans gegun.

Die laaste wedvlug van die seisoen sal op 6 Oktober 2017 vanaf Leeu Gamka plaasvind. Die 990 km tot in Pretoria word gewoonlik in net oor die 12 ure afgelê. Verlede jaar (2016) het die wenduif die betrokke vlug in 11ure en 58 minute voltooi en lustig sy pronkdans gegee.