Dlamini-Zuma se prysgeld deur Guptas geborg

Nuwe bewerings het die lig gesien waarvolgens dit wil voorkom of ‘n Gupta-verwante instelling, deur ‘n geldwas skema die prysgeld voorsien het vir ‘n prys wat Nkosazana Dlamini-Zuma ontvang het.

In 2015 het Dlamini-Zuma die South African of the Year toekenning gekry, wat aangebied word deur die Gupta beheerde The New Age maatskappy.

Ene Eric Wood, een van die vennote van die Guptas, se naam word in die verband genoem, en hy sou na bewering miljoene rande op twyfelagtige wyse geskuif het om die geleentheid en prysgeld moontlik te maak.

Die bewerings word in ‘n beëdigde verklaring gemaak deur een van Wood se voormalige sakevennote, ene Litha Nyhonyha.

Tydens die spoggeleentheid het Dlamini-Zuma prysgeld van R250 000 kontant gekry, wat deur haar ex, Jacob Zuma, aan haar oorhandig is.  In wese was dit egter ‘n geskenk van die Guptas aan haar, met bykomende doelwit om haar te bevoordeel met die oog op die moontlikheid dat sy die leisels by Jacob Zuma moet oorneem.