Die Marmeladebos / Streptosolen jamesonii

 

Die naam beskryf hierdie struik met sy trosse roomkleurige, geel, oranje tot amper rooi blommetjies baie mooi. Dit lyk sommer na marmelade en dit voel amper of ons ons sonbrille moet uithaal. Marmeladebos is nogal skaars. Dit is ‘n meerjarige plant en is immergroen. Marmeladebos blom regdeur die jaar en sal die tuine opvrolik. Dit is ‘n ornamentele plant.

Marmeladebos groei maklik en word tot 6 voet hoog indien dit nie teruggesnoei word nie. Dit is ‘n digte struik wat oorvloedig blom. Die blare is heldergroen en spiesvormig met duidelik sigbare aartjies. Die blomme is trompetagtig en klein en elke blommetjie het 5 kroonblaartjies.

Hierdie struike kom oorspronklik van die Andes berggebiede af waar die klimaat redelik warm is gedurende die hele jaar. Marmeladebos sal dus in ‘n tropiese klimaat floreer. Dit kan met steggies of saad geplant word. Plant dit in volson en gee gereeld water. Dit verkies goed dreinerende grond. Hierdie struike kan ook so gesnoei word dat dit as heining kan dien. Dit sal skoenlappers na die tuin lok.

Tuiniers, onthou dit raak nou kouer en beskerm u delikate plante met rypdoek. Gewoonlik word ons onverwags oorval deur ryp en koue winde wat aan ons skaars soorte plante groot skade kan aanrig.

Geniet u tuin tot volgende keer.