Corbyn eis Theresa May se bedanking

Die leier van die Arbeidersparty in Brittanje het die eerste minister van Brittanje, Theresa May versoek om te bedank nadat haar party talle setels moes afstaan en ook haar volstrekte meerderheid moes prysgegee.

’n Konserwatiewe Party parlementslid het die premier verantwoordelik gehou vir die groot terugslag wat die regerende party getref het en bygevoeg dat Theresa May setels en baie stemme prysgegee, maar ook geloofwaardigheid verloor het.

Die Arbeidersparty het ’n wins van 31 setels behaal terwyl die Konserwatiewe Party 12 setels afgestaan het aan opposisiepartye.

Die premier het in reaksie op Jeremy Corbyn se eis dat sy moet bedank, gesê daar is geen rede waarom sy as leier van die meerderheidsparty moet bedank nie.

Politieke ontleders meen die swaai weg van die regerende party kan deels toegeskryf word aan die vrees wat by werkende jongmense bestaan dat hulle met die land se uittrede uit die Europese Unie, hulle werk kan verloor.

Vroeër is voorspel dat die Konserwatiewes ’n reuse oorwinning sou behaal, maar namate die veldtog gevorder het, was dit duidelik dat haar aanslag nie voldoende feite bevat het om kiesers gerus te stel nie.

Met ’n meerderheid opposisieparty lede in die parlement, sal die premier genoodsaak word om ’n ooreenkoms aan te gaan met Noord-Ierland se Demokratiese Unioniste Party wat tien setels ingepalm het.

So ’n kunsmatige koalisie kan dit vir premier May baie moeilik maak om belangrike besluite deurgevoer te kry, en sal onderhandelinge met die Europese Unie veel moeiliker verloop as wat verwag is.

Die Tories het in 318 kiesafdelings geseëvier, maar dit is 8 setels te min vir ’n volstrekte meerderheid, en het reeds ’n ooreenkoms met die Demokratiese Unioniste (DUP) bereik wat 10 setels ingepalm het.

Die leier van die DUP het gesê sy is bereid tot ’n ooreenkoms, wat die premier laat besluit het om die paleis te besoek om goedkeuring te bekom om ’n nuwe regering saam te stel.

Die premier se grootste skok het gekom toe byna die helfte van haar kabinet se ministers hulle setels verloor het.

Foto – Premier Theresa May