Christene moet skoolfondse weerhou

Christene met kinders in staatskole, moet oorreed word om te weier om skoolgeld te betaal.

Die oproep kom van die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, na aanleiding van die hofuitspraak waar bevind is dat skole geen voorkeur aan die Christelike geloof mag gee nie.

“As Spur gedwing kon word om verskoning te vra en sy houding te verander deur ons ondersteuning te weerhou, kan dit ook in hierdie geval gedoen word deur ons skoolgeld te weerhou,” sê mnr. Breytenbach.

“Die howe verbeel hulle blykbaar hulle is oppermagtig, maar hulle  vergeet dat die skole met ons belasting en skoolgeld befonds word. Om belasting te weerhou, is moeilik, maar om skoolgeld te weerhou, is maklik. Verbeel jou!, ‘n skool mag nie openlik Christelik wees nie, maar hy mag (moet) openlik ateïsties wees!

“Dis nou die tyd vir Christene om op te staan vir die eer van Jesus Christus en vir hierdie antichristelike regering en sy howe te sê: Jesus Christus is Koning. Ons is aan  Hom meer gehoorsaam as aan julle. Ons kerke moet gevra word om die aksie te steun, en indien hulle weier, moet ons hulle dwing deur ons offergawes te weerhou en dit aan te wend om onderwysers wat aangekla word as hulle voortgaan om hul skole se Christelike karakter te handhaaf, te verdedig,” sê mnr. Breytenbach

Hy sê die eerste prys sou wees om kinders uit die staatskole te neem en in Christelike privaatskole te plaas of tuis te onderrig, maar dit is nie vir almal moontlik nie.

Mnr. Breytenbach sê dit is buitendien onaanvaarbaar dat ‘n paar ongelowiges vir alle openbare skole kan voorskryf wat hulle etos en karakter mag wees en nie mag wees nie. “Laat ons hak in die grond slaan en hulle aanvat!”

Foto: Mnr. Andries Breytenbach, HNP-leier