Britse premier kan gou vervang word

Die Britse parlementslid Heidi Allen is die eerste Konserwatiewe Party spreker wat haar bedenkinge uitgespreek het oor premier Theresa May se voortgesette leierskap.

Allen reken die duur van die eerste minister as regeringshoof kan moontlik nie langer as ses maande duur voordat sy vervang gaan word nie.

Die parlementêre verteenwoordiger van die Suidelike Cambridge kiesafdeling sê mevrou May se tydperk as premier sal slegs staande bly tot die eerste rondte van die Brexit onderhandelings gevoer is.

Allen het daarop gewys dat die omstandighede met Brexit die enigste red is waarom die parlementariërs van die Konserwatiewe Party haar nie gevra het om terug te staan as premier nie.

Daar is egter ook verskeie parlementslede wat die eerste minister ondersteun, en sy is glo ingelig dat dit raadsaam sal wees om ontslae te raak van die adviseurs wat haar met verkeerde advies bedien het met die verkiesingsveldtog.

Politieke ontleders reken die premier beskik oor voldoende goeie eienskappe om die Konserwatiewe Party en die regering op koers te plaas, maar dan sal sy met groter versigtigheid moet kyk na wie sy in sleutelposte aanstel.

Foto –  Heidi Allen