Brexit veroorsaak EU finansiële tekort

Die kommissaris van die Europese Unie, Günter Oettinger, sê in ’n verklaring dat die organisasie na die jaar 2020 ’n finansiële tekort sal ondervind in sy begroting.

Oettinger sê die tekort, wat na raming sowat 20 miljard euro sal beloop, word toegeskryf aan die uittrede van Brittanje as lid van die EU.

Hy het as spreker opgetree oor die toekoms van die Europese Unie, en gesê die vertrek van Groot Brittanje as lid van die EU in 2019 sal ’n groot tekort van tot 12 miljard euro veroorsaak wat in 2020 ondervind sal word.

Terselfdertyd word druk op die EU geplaas om meer fondse beskikbaar te stel aan verdediging, wat die tekort verder gaan vergroot aangesien grens bewaking en ander veiligheidsmaatreëls dringende aandag verdien.

Kenners wys daarop dat president Donald Trump die Europese Unie ook gewaarsku het dat Europese lande self moet omsien na hulle belange, en nie na die VSA moet kyk vir finansiële hulp nie.

Günter Oettinger meen ook die totale tekort in die begroting kan tot meer as 20 miljard euro beloop as alles in berekening gebring word.

Die EU bestuur tans ’n begroting van sowat 150 miljard euro, maar met Brittanje se uittrede sal die begroting drasties krimp, en kan soveel as 10 miljard euro per jaar beloop, het hy gesê.

Foto – Günter Oettinger