Binnelandse sake gaan amptelik staak

Die Departement van Binnelandse Sake, wat nie werklik bekend is vir sy funksionaliteit nie, het kennis ontvang dat personeel oor twee weke amptelik gaan staak nadat onderhandelings oor oortydbetaling ‘n dooiepunt bereik het.

Daar is ‘n beroep op die betrokke vakverbonde gedoen om die staking af te weer aangesien grensposte ook beïnvloed gaan word deur die staking.

Die feit dat die staking gaan oor oortydbetaling het op sigself vrae laat ontstaan. Die publiek is nie bewus daarvan dat dié departement langer ure werk nie. Deure word eerder vroeër gesluit as later, tot groot frustrasies van die publiek wat reeds kla oor dié departement se effektiewe dienslewering.