Aspidistra elatior / Potysterplant

Aspidistra is ‘n baie bekende plant en word ook nog so mooi as die “potysterplant” beskryf. Dit is in die familie Asparagaceae en is ‘n perfekte keuse om in diep skadu onder bome te plant. Aspidistra plante aard baie goed binnenshuis in potte. Ons sal hulle in baie huise vind.

Die postysterplant word tot 60 cm hoog en is immergroen. Die blare is lank en blink en donkergroen. Sommige van hierdie plante se blare het roomkleurige strepe of kolletjies op en vertoon nog mooier. Die blare word  30 tot 50 cm lank en is vlesig. Hulle dra ook roomkleurige agtlobbige blomme met ‘n donkerpers kleur in die binnekant van die blom. Die blomme verskyn in die vroegsomer. Hierdie plante is bietjie suinig om te blom, daarom word dit hoofsaaklik vir die pragtige loof geplant

Potysterplante is afkomstig van Japan en Taiwan. Dit is ‘n geharde plant en groei maklik. Hierdie plante het ‘n polvormige groeiwyse. Die plante is rypgevoelig. Volgens bronne kan hulle maar afgeskeep word, hulle sal nogtans mooi bly. Moenie te veel water toedien nie, dit kan die pol en wortelstelsel laat verrot. Die blare sal ook sommer bruin begin verkleur indien dit te nat is. Plant dit in goeie dreinerende grond. Dit sal glad nie mooi groei in vol son nie. Gedurende die somerseisoen moet dit gevoed word met ‘n gebalanseerde vloeibare plantvoedsel. Verdeel hulle so elke twee jaar. Sny die geel verlepte blare teen die stam af. Insekte is lief vir hierdie plante.

Die plant is nie giftig vir diere nie. Onthou egter ook altyd dat ons liefs met handskoene aan moet werk, veral wanneer ons plante verdeel en uitplant.

Geniet u tuin tot volgende keer.