Apartheidstronke was beter

‘n Parlementêre span wat die Johannesburgse tronk, bekend as Sun City, besoek het, moes tot hulle ontnugtering hoor dat die tronk beter was in die apartheidstyd as nou.

‘n Gevangene wat al 17 jaar in die tronk is, het as woordvoerder vir die gevangenes opgetree, en die parlementslede daarvan beskuldig dat hulle die tronke in die steek laat, en dat die apartheidstelsel beter was.

Ishmael Moshoeshoe het, onder applous van sy mede-gevangenes, gesê dat die witmense dit beter gedoen het. “Julle laat ons in die steek,” moes die parlementslede hoor.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste is gelei deur die voorsitter, dr Mathole Motshekga. Hulle moet toestande van gevangenes in tronke ondersoek.

Dit blyk dat Sun City oorvol is, met selle waarin tot 68 gevangenes moet bly en waar hulle net twee toilette het wat almal moet bedien. Sommiges slaap op die grond, terwyl daar te min klere en komberse is.