Amazon koop supermark vir miljarde doller

City Investors, INC- Vulcan- 2200 Westlake

Die Webwerf winkel van Amazon sal eersdaags ’n reuse verandering ondergaan wanneer die “winkel” ’n werklike winkel word, veral noudat hy die supermark groep Whole Foods Market vir 13,7 miljard dollar gekoop het.

Die oorname is die grootste transaksie van die bekende e-winkel en kommersiële reus, en ekonome is van mening dat die oorname talle ander supermarkte in Amerika se aandele kan laat daal.

Dit is ook die mening van die gesaghebbende Bloomberg agentskap wat daarop wys dat die oorname groot instansies soos Ahold Delhaize nadelig kan beïnvloed.

Die twee instansies het in ’n gesamentlike verklaring bekendgemaak dat Amazon $42 per aandeel betaal, en dit met een kontant vereffening afgehandel het.

Whole Foods Market is daarvoor bekend dat sy winkels van die beste gehalte natuurlike en organiese voedsel bied aan kliënte, wat glo een van die dryfvere was van die nuwe eienaar om dit oor te neem.

Amazon is ook besig om hoë tegnologiese supermarkte te vestig waar weinig personeel en geen kasregisters te sien sal wees nie.

Die maatskappy beplan ook om ’n groot aantal nuwe boekwinkels te vestig waar baie min personeel in diens geplaas sal wees.