Verskillende ertjies? “Snow peas, snap peas, garden peas, sugar peas, mangetout”…

Wel tuiniers, soos ons weet, is daar deesdae verskillende soorte ertjies in die mark en almal is sommer ewe lekker. Dit raak ook al meer gewild om mee te kook en dit lyk pragtig saam met verskillende disse. Ertjies is almal van die legume familie, hoewel hulle nie almal eenders lyk nie, of altans hul vrugte (ertjies en peule) lyk nie eenders nie. Alle ertjieplante is rankers en groei welig in die groentetuine. Gewoonlik is die meeste ertjies gelukkig in gebiede waar dit koel is.

“Snow peas” is ook bekend as Chinese ertjie peule omdat dit net so met die peule in hulle roerbraaigeregte gebruik word. Hierdie ertjies is plat met baie klein ertjies binne die peul. Die hele ertjie is egter eetbaar.  Soms moet die draadjie wat die peul bind net afgehaal word, dis soos om boontjies te onthaar. “Snow peas” kan rou of gekook opgedien word.

“Garden peas” of tuinertjies,  is ons gewone ertjies wat ons goed ken en word ook soms soet-ertjies genoem. Die peule van hierdie ertjies is ferm en gerond met groterige ronde ertjies aan die binnekant. Ons kook gewoonlik net die ertjies en nie die peul ook nie. Tuinertjies is soet en kan ook rou of gekook geëet word. Dit is ewe lekker, veral indien dit sommer daar in die tuin gepluk en uitgedop word. Vars en smaaklik! Dit is ook die ertjies wat ons gevries by die supermark koop.

“Snap peas” is ‘n kruising tussen ‘n “snow pea” en ‘n tuinertjie. Die hele ertjie met peul en al word gewoonlik gaar gestowe en so geëet, maar kan ook rou geëet word. Hierdie ertjies het ‘n krakerige tekstuur en ‘n heerlike soet smaak. Daar is ook “hare”  wat die peul bind wat afgehaal moet word voor gebruik, maar volgens bronne is daar nou ook “haarlose” ertjies beskikbaar.

“Mangetout” is ook ‘n ertjie wat soos die “snap peas” en die “snow peas” lyk en op dieselfde manier gebruik word. Dit is veral gewild in roerbraaigeregte en smaak ook soos bogenoemde ertjies.

Plant gerus in die lente ertjies en geniet heerlike geregte sodra die herfs op ons is. Plant die saad 2,5 cm tot 4 cm diep. Dit kan ligte ryp verdra maar plant dit liewer iewers op die erf waar die ryp dit nie so erg gaan vang nie. Ertjies moet gestut word omdat hulle rank en daar is van hulle wat tot 2 meter lank oprank. Dit moet ten minste 4 tot 6 ure sonlig elke dag kry om goed te kan dra.

Tuiniers, onthou die ryptyd is naby en wees voorbereid met die rypdoek en beskerm u delikate plante teen koue winde. Geniet u tuin, gelukkig raak die bossies nou minder namate dit kouer word. Tot volgende keer.