Terroriste slaan toe op Christene

Talle kinders is onder die 28 Christene wat in Egipte deur terroriste doodgeskiet is terwyl hulle per bus onderweg was na ’n Christelike byeenkoms.

Die Egiptiese minister van gesondheid het gesê die busse was onderweg na die St. Samuel byeenkoms toe sowat tien gewapende terroriste met maskers en in militêre uniforms op hulle losgebrand het.

Benewens die 28 mense wat doodgeskiet is, het tientalle skietwonde opgedoen wat dringende mediese behandeling moes kry.

Na die aanval was die voertuie se vensters stukkend en talle skietgate was getuie van die aanval, terwyl talle gewondes en dooies op die terrein verspreid gelê het.

Die weermag het begin soek na die terroriste wat nou die soveelste aanval uitgevoer het op Christene.

Die Islamitiese Staat het verantwoordelikheid aanvaar vir die gru aanval en die Egiptiese lugmag het ’n Libiese opleidingsentrum gebombardeer waar terroriste blykbaar opleiding gee aan jong rekrute.