Teeboom / Melaleuca alternifolia

Malaleuca alternifolia of teeboom is miskien onbekend in ons tuine. Hierdie teeboom is die bron van die bekende teeboomolie wat die wonderlike helende eienskappe het. Dit word hoofsaaklik vir medisinale gebruik aangeplant. Hierdie boom het verskeie name waarvan “smal blaar teeboom” en “sneeu in die somer” nogal so mooi by die boom pas. Dit is in die Myrtaceae familie en die spesie is M. Alternifolia. Dit is inheems in Australië en kom ook in sekere dele van Nu-Suid-Wallis voor.

Melaleuca alternifolia is ‘n klein boom of struik wat omtrent 7 meter hoog groei. Dit het ‘n bosagtige kroon en die bas is wit en papieragtig. Die blare is langwerpig en smal en groei baie dig aan die takke. Blare is 10 tot 35 mm lank en 1 mm breed, sag en glad. Die blare is ryk in olie. Die blomme van hierdie boom laat ons baie aan die bottelborsel bome dink, maar wanneer ons dit van naby besigtig lyk dit soos spierwit kant. Hulle blom oorvloedig. Blomme se speekagtige blaartjies word 3 tot 5 cm lank en hierdie blomme verskyn in die lente en vroegsomer. Hierdie bome dra ook saad wat in die vorm van klein koppies voorkom en is 2 tot 3 mm in deursnee en is versprei langs die takke.

Hierdie bome groei langs strome en vleilande op hul beste. Hulle groei in enige tipe klimaat en enige tipe grond wat goed dreineer en hul moet in volson geplant word.

Die gekneusde blare van die teeboom skei olie af wat ingeasem word vir hoesbuie en verkoue. Dit kan ook op wonde gesmeer word. Gewoonlik word die blare in water geweek en die “tee” word gebruik vir seerkeel en is wonderlik vir velsiektes en ook vir velkanker. Dit help ook vir jeukplekke en veluitslae.

Teeboom olie moet glad nie in groot hoeveelhede ingeneem word nie. Dit kan vel irritasies veroorsaak. Raadpleeg liewer u geneesheer alvorens u dit per mond inneem.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.