Talle nuwe gesigte by G7 beraad

Die G7 beraad, wat bestaan uit groter moondhede van die wêreld, het vanjaar met talle nuwe gesigte sy eerste sitting gehou op die Italiaanse eiland Taormina.

Die beraad het veel aandag gee aan terrorisme, handelsooreenkomste en klimaat verandering.

In ’n gesamentlike verklaring word bevestig dat die G7 lande hul inspanning teen terrorisme gaan verdubbel weens die wêreldwye gevaar.

Die bomontploffing in Manchester en ’n ander in Swede het die afgevaardigdes laat besef dat die aanspraak van president Trump geregverdig is om meer energie in te sit teen terreur organisasies.

Dit is bekend dat Frankryk op die voorpunt is saam met Duitsland om uitvoering te gee aan die Parys ooreenkoms rakende klimaatsverandering, maar president Donald Trump van Amerika het geweier om enige besluit daaroor te finaliseer en gesê sy besluit volg later.

Hierop het kanselier Merkel die beraad as “baie onbevredigend” beskryf nadat Trump selfs gedreig het om te onttrek uit die ooreenkoms.

Dit maak die vergadering van die G7 in die Italiaanse dorp op die eiland Taormina een van die moeilikste byeenkomste wat ooit plaasgevind het.

Die nuwe gesigte soos president Donald Trump, eerste minister Theresa May, die Franse president Emmanuel Macron asook die Italiaanse gasheer Paoli Gentiloni, het ietwat meer spanning teweeggebring, maar president Trump moes alleen veg teen die ander ses oor klimaatsverandering.

Dit is bekend dat kanselier Merkel en die sosialis, president Macron, reeds hul verhouding sterker gesmee het rondom Navo, die Europese Unie en G7 belange.

Merkel het haar stempel afgedruk, terwyl Donald Trump nie toegelaat het dat Duitsland, wat hy die vorige dag skerp gekritiseer het, die septer swaai nie.

President Trump het waarskynlik ’n bondgenoot in premier Theresa May gehad oor terrorisme, veral omdat sy ernstig verskille het met Duitsland en Frankryk weens Brittanje se besluit om uit te tree as lid van die Europese Unie.

Die G7 afvaardiging bestaan uit Brittanje, Amerika, Duitsland, Frankryk, Japan, Kanada en Italië nadat die G8 verander het na G7 met Rusland wat vroeër uitgeskakel is.