Storm bars los na ontslag van FBI hoof

’n Politieke storm het losgebars nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, die verassende stap geneem en die FBI-baas, James Comey, met onmiddellike ingang ontslaan het.

“Die FBI is een van die mees gerespekteerde instellings en word daar ’n nuwe begin gemaak vir die kroonjuweel van regshandelinge”, het die president gesê.

President Trump het die FBI-hoof ontslaan op aanbeveling van die minister van justisie, Jeff Sessions.

Sessions het in ’n brief aan die president daarop gewys dat die FBI-direkteur iemand moet wees wat die beginsels van die ministerie van justisie volg.

President Trump het Rod Rosenstein aangestel in die plek van die afgedankte Comey, wat dadelik sy pligte as FBI-hoof opneem.

Comey is per brief deur die president ontslaan waarin onder meer staan dat hy op aanbeveling van die ministerie van justisie afgedank word aangesien hy nie in staat is om effektiewe leiding te gee nie.

Comey was glo van plan om in die teenwoordigheid van FBI-personeel en verskillende TV-joernaliste sy bedanking aan te kondig, maar minister Sessions het hom deeglik uitoorlê met ’n brief van ontslag wat die “sensasie” uit die gebeure wegneem.

Die linkse Demokratiese Party het kort na die nuus bekend geword het, skerp gereageer met hewige kritiek en gesê die voorval is gelyk aan die omstrede optrede van die destydse president, Richard Nixon, wat ’n onafhanklike prokureur ontslaan het tydens die Watergate-skandaal.

Die bewering word gemaak dat Trump die ondersoek na die verhouding met Rusland tydens die verkiesing wil dwarsboom, en Demokrate het gevra dat ’n onafhanklike regter ondersoek doen na die aanstelling van die nuwe FBI-hoof.

James Comey was deur Barack Obama gedurende 2013 aangestel vir ’n tydperk van tien jaar.

Verskeie linkse koerante beweer dat die Trump-administrasie Amerika in ’n politieke krisis laat beland het met die optrede teen die FBI-hoof.

Comey het by drie geleenthede gesê geen ondersoek word gedoen en beplan of president Trump betrokke was by die skakeling met Rusland tydens die verkiesingsveldtog nie.

Foto – James Comey