Sport weer afgedreig met kwotas

Suid-Afrikaanse sport en hulle ondersteunende publiek word weer afgedreig met transformasie.

Thulas Nxesi, ­die nuwe minister van sport en ontspanning, sê Suid-Afrika kan die 2023 wêreldbeker rugbytoernooi aanbied, mits “voldoende transformasieteikens” behaal is.

Sportwaarnemers beskou dit as niks anders as afdreiging nie.

Hierdie houding volg op die minister se voorganger wat al verlede jaar besluit het dat rugby, krieket, netbal en atletiek nie groot byeenkomste mag aanbied tensy hulle spesifieke transformasieteikens haal nie.

In plaas daarvan om standpunt in te neem, wil dit voorkom of die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru)  bereid is om aan alle rassistiese eise van die regering te voldoen ten einde ‘n bod in te dien om die WB-toernooi in 2023 aan te bied.

Intussen wil dit voorkom of Saru se sportkwotas ‘n draai in die hof kan maak, en hulle het vol bravade aangekondig dat hulle hul kwotas in die hof sal verdedig.

Daar word verwag dat die rugbypubliek ook met hulle voete sal stem en stadion leeg sal laat uit protes teen kwotas ten koste van bekwaamheid.