Seleksie van Duiwe

Om die beste gehalte duif te soek, moet alle eienskappe nagegaan word. Een goeie eienskap alleen beteken niks as die ander eienskappe nie so goed vertoon nie. Dit kan ook wees dat slegs een swak eienskap ‘n duif soveel strem dat hy nie kan presteer nie.

Dit is die duif wat die beste kleintjies teel of self baie goed presteer wat belangrik is. Sy bouvorm sal noodwendig goed gebalanseerd wees anders sou hy nie presteer nie. ‘n Duif wat uitstekend presteer, is die ideaal; of hy volgens iemand se standaarde goed of swak gebou is, is bysaak. Om altwee doelwitte na te streef, maak sake onnodig ingewikkeld.

Daar is egter sekere eienskappe wat ‘n duif moet besit om gehalte te weerspieël. Al besit ‘n duif ook die beste onwaarneembare eienskappe soos rigtingsin, maar sy uiterlike waarneembare eienskappe, soos spierkwaliteit, is swak, sal hy nie goed presteer of teel nie. By seleksie van ‘n goeie duif word op die volgende punte gelet:

(a)   Die vere moet syagtig, glad en poeierig voel.

(b)   Die primêre penvere van die duif moet verkieslik nie baie lank wees nie. Wanneer die duif rustig is, moet die vlerkpunte nie verder as by die begin van die dwarsstreep op sy stert reik nie. ‘n Duif met lang vlerke is geneig om te sweef en jaag nie huis toe nie.

(c)   Die borsspiere moet sag, sponserig, vol en sterk voel as met die vingerpunte daarop getrom word. Verder moet daar ‘n trilling teenwoordig wees wat daarop dui dat die duif op aksie ingestel is.

(d)   Die spiere naaste aan die lyf onder die vlerkarm van die duif moet sterk voel en nie beenderig wees nie. Hierdie aspek kan bevestig word deur die duif toe te laat om effens te spartel. As sy vlerk sterk reageer, (hoewel nie noodwendig nie) is alles wel. Onthou, ‘n rustige en kalm duif gebruik dikwels nie geweldig krag om los te kom nie.

Volgende keer sal meer eienskappe uitgelig en bespreek word.