SEB-administrateur verloor miljoene se pensioengeld

Pensioengeld van Anglo Platinum, wat belê is in die (BBF), wat geadministreer is deur Bophelo Benefit Services, ’n filiaal van Mvumonala Holdings, kan moontlik weens bedrog daarmee heen wees.

Daar word geraam dat soveel as R560 miljoen betrokke kan wees. Skynbaar het die maatskappy sy 2016-finansiële state gekook om die verliese te verdoesel.

Volgens die state het die fonds twee eiendomme in Johannesburg ter waarde van R255 miljoen, plus aandele ter waarde van R323 miljoen. Dit wil egter voorkom of die eiendomme ter sprake in ander maatskappye se name geregistreer is, wat dus beteken dat die R255 miljoen se bates reeds nie bestaan nie. ‘n Senior amptenaar van AGPF reken egter dat daar niks in die fonds oor is nie.

Mvunonala Holdings is gestig deur ene Bongani Mhlanga, wat voorheen betrokke was by die Mantadia Asset Trust Company. Mantadia was die administrateur van R1,3 miljard se pensioengeld wat weg is in die Fidentia-skandaal waarvoor J Arthur Brown nou 15 jaar in die tronk is.

 

Mhlanga is skynbaar ‘n Zimbabwiese burger wat skynbaar deur valse inligting sy Suid-Afrikaanse identiteitsdokument gekry het, en hy is vroeër die maand na Zimbabwe gedeporteer.