Ryslandkruid / “rice paddy herb” / Limnophila aromatica

Die ryslandkruid is seker bietjie onbekend by ons boerekokke. Dit word gewoonlik in Viëtnamese geregte gebruik. Ryslandkruid het ‘n sitrus- en sagte komyngeur.

Limnophila aromatica (ryslandkruid) dra ook blomme. Die spesie is aromamtica en die genus Limnophila. Dit is ‘n tropiese plant in die Plantaginaceae familie. Hierdie plante is inheems van Suidoos Asië. Dit groei baie goed in warm, klam temperature. Ryslandkruid hou van baie water en word in die oorspronklike tropiese ryslande in waterryke areas geplant. In Viëtnam word hierdie plante ook as akwarium plante aangeplant. Die plante is in 1970 in Noord Amerika bekend gestel na die Viëtnamese oorlog, nadat daar soveel immigrante in Noord-Amerika aangekom het.

Hierdie plante sal ook in droër areas groei, maar dit moet in goed dreinerende grond geplant word en sommer baie water kry. Ryslandkruid gaan dood nadat dit geblom het. Hierdie plante het heldergroen stammetjies en spiesvormige heldergroen digte blaartjies. Die plante word 15 tot 30 cm hoog. Dit moet in  vol son geplant word. Die blare word gedroog en in die kos gebruik.

Ryslandkruid word veral in seekos sopdisse gebruik. In Viëtnam staan dit bekend as “ngoom”.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer. Onthou dat dit sommer heerlik is om met vars kruie te kook uit ons eie tuine.