Politieke uitgediendes beplan “dialoog oor SA”

‘n Aantal half-vergete name in die Suid-Afrikaanse politiek, poog om hulleself weer op die voorgrond te stoot deur ‘n sogenaamde dialoog oor Suid-Afrika te hou.

Die verlinkses wat daarby betrokke is kom uit die stigtings van FW de Klerk, Jakes Gerwel, Thabo Mbeki, Phumzile Mlambo-Ngcuka, Albert Luthuli, Desmond en Leah Tutu, Helen Suzman en Robert Sobukwe.

Skynbaar het die verteenwoordigers van die stigtings ongeveer twee jaar gelede begin gesels oor hulle “diepe kommer oor die land en sy jong demokrasie”.

Die “nuwe nasionale dialoog vir Suid-Afrika” sal bekend staan as die Nasionale Stigtingsdialoog Inisiatief (NSDI) en wil alle Suid-Afrikaners op verskillende vlakke byeen te bring om “doelgerig en rasioneel” oor die toestand in die land te praat.

Op Vrydag 5 Mei word ‘n byeenkoms in Johannesburg gehou met die tema: “Hoekom het Suid-Afrika ’n nasionale dialoog nodig? ’n Wekroep aan die nasie”.

Thabo Mbeki, FW de Klerk, Kgalema Motlanthe en Phumzile Mlambo-Ngcuka sal toesprake daar lewer.

Dr. Theuns Eloff, een van die mense wat eerste met die ANC in gesprek getree het toe dit nog as terroristebeweging verban was in Suid-Afrika en tans uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, speel glo ‘n leidende rol in die NSDI.