Polisie kommissaris ontken Wimpy ete

Die Noord-Kaapse polisie kommissaris, Rimati Shivuri, het skynbaar gebruik gemaak van ‘n staatshelikopter om hom na ‘n nabye Wimpy te neem vir ontbyt.

Dit was egter nie die einde nie. Die helikopter is dieselfde week gebruik om van Colesberg na die Gariepdam (Hendrik Verwoerddam) te vlieg om ‘n baadjie te gaan optel wat Shivuri daar vergeet het.

Die koste vir die twee vlugte word bereken op sowat R7 500.  Die provinsie het een helikopter om misdaad te bekamp en dit word nou skynbaar vir persoonlike gebruik aangewend.

Op navraag het die polisie verklaar dat die helikopter gebruik is om misdaad te bekamp en het hulle ontken dat dit gebruik is vir ontbyt en klere-transport.  Waarnemers heg egter nie veel waarde aan soortgelyke ontkennings nie omdat die ontkennings algemeen gedoen word, net om later vas te stel dat die feite swaarder geweeg het as die ontkennings.