Poetin en Macron in druk gesprek

Die Franse sosialis, president Emmanuel Macron, het ’n ontmoeting gereël met president Vladimir Poetin van Rusland, wat die eerste van sy soort is sedert Frankryk se nuwe president ingesweer is.

Waarskynlik sal president Macron konsentreer op die Russe se ondersteuning aan die Siriese regime van president Assad, alhoewel enkele ander onderwerpe ook aangeraak sal word.

President Macron het die Russiese president Maandag verwelkom in die luuksheid van die Franse Paleis van Versailles kort na afloop van die G7 beraad.

Vir president Vladimir Poetin is dit die eerste ontmoeting van man teenoor man met die Franse president Macron, en het klaarblyklik ook simboliese waarde aangesien die besoek van Peter die Grote, presies 300 jaar gelede, aan Frankryk ook ’n tydperk van beter verhoudinge ingelei het.

Emmanuel Macron het gedurende sy verkiesingsveldtog gesê hy sal hom beywer vir beter betrekkinge met Rusland.

Dit is opvallend dat die Franse president nie die deure van die meer luukse Elysee Paleis oopgemaak het om die Russiese president te ontvang nie, maar die Franse protokol het waarskynlik iets daarmee te doen.

Die vermoede bestaan dat Macron ook die situasie in die Oekraïne sal aanraak waar Russiese betrokkenheid in die ooste van die land veroordeel word.

Macron het na afloop van die G7 beraad beklemtoon en gesê dit is nodig dat gesprek gevoer word met Rusland oor die krisis in Sirië.