Phosa wil ook president word

Byna in dieselfde asem dat hy vir Jacob Zuma vra om te bedank, het Mathews Phosa aangedui dat hy ook verkiesbaar is vir die ANC se leierskap, en dat hy reg is om die land as president te lei.

Phosa was voorheen die tesourier-generaal van die ANC en ook premier van Oos-Transvaal.

Hy het tydens ‘n toespraak in Langa op die Kaapse vlakte, ANC-lede aangemoedig om hom te steun in sy oproep dat Zuma moet bedank, en dat hulle hul nie moet laat mislei deur populiste en valse profete nie.

Hy het die huidige ANC-leierskap beskuldig van diefstal, korrupsie en growwe wanbestuur en dat hulle niks vir mense van die land doen nie.

‘n Aantal ANC-takke het Phosa genomineer vir die ANC leierskap, en hy het dit aanvaar, wat beteken dat daar amptelik drie kandidate in die wedloop is om Zuma op te volg. Benewens Phosa is dit ook die huidige adjunk-president, Cyril Ramaphosa en Zuma se ex-vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma.