Op die volksakker – Siende blind, horende doof

Die afgelope maande sou mens kon dink ´n verkiesing is op hande: politici het “skielik” tot die besef gekom dat die staat, staatsondernemings en haas elke openbare dienstesektor stelselmatig in duie stort.

Die nuutste storm het losgebars om die leuens van Brian Molefe en die Eskom raad, wie se leuens dag na dag verander.  Ietwat uit die direkte kollig, is die SAUK uiteindelik besig om Hlaudi Motsoeneng se “diens” te beëindig.  Deur verskeie maatskappystrukture steel politici klaarblyklik miljoene elke maand deur “diensgeld” vir sosiale toelaag uitbetalings.

En ewe getrou is die land se “waghonde” – burgerlike organisasies en die pers – besig om nog eens hul oëverblindery toe te pas: die publiek word wysgemaak dat “stappe teen die verkeerde gedrag” nou geneem word.

Die feit dat getransformeerde besture die geheel van die staat se dienslewering struktuur stelselmatig geplunder het, is inderdaad ´n krisis, en stappe om dit reg te stel móét verwelkom word – eerder laat as nooit!

Maar ons moet raaksien dat selfs hierdie krisisse is bloot simptomaties is van die korrupte partypolitiek, korrupte regering en politici se diepgewortelde eiebelang.  Dat nou eensklaps erken word – nogal deur die ANC – dat korrupsie egter endemies deur die staatsdiens voorkom, is insiggewend, indien die demografiese transformasie van die staat in ag geneem word.

Diegene wat die sosiale media volg, sou opmerk dat sedert Zuma se eerste mislukte aanslag op minister Gordhan, ook die nuus oor hoeveel miljarde onwettig deur die Guptas landuit verduister was, daar ´n groeiende ontevredenheid onder landsburgers posgevat het.

Zuma se stompsinnige kabinetskommeling en die (voorspelbare) ineenstorting van ons ekonomiese vooruitsigte was ´n vonk in die kruitvat.

Die vraag is egter: sou politici een vinger verroer het as dit nie was vir hierdie openbare druk nie?

Die antwoord staar enige denkende in die gesig: NEE.

Dit is politici in die parlement (en ander wetgewers) wat reeds vir langer as twee dekades terugsit en kyk hoe transformasie kandidate ons infrastruktuur verwoes en alles moontlik plunder.  Aanstelling na aanstelling by haas elke staatsdepartement en staatsonderneming het telkens meer as hul voorgangers gesteel. (Die hof het reeds in die Zuma-saak bevind dat wie neem wat hom/haar nie toekom nie, ´n dief genoem mag word, dat hul optrede neerkom op diefstal.)

Die krisisse en agterstande met dienslewering, dreigende bankrotskap by die SAL, skuldlaste by Eskom en die SAUK, en noem maar op, het nie in die pas afgelope fiskale jaar ontstaan nie.

Dit het sedert 1994 opgebou!

Daarom: kan ons politici enigsins vertrou om nie maar weer eens goue handdrukke uit te deel nie?  Mense sal sekerlik ontslaan word, maar gaan hulle vervolg word en die onwettige rykdom teruggeneem word – wetgewing bepaal immers dat misdadigers se bates gekonfiskeer mag word!

En die korporatiewe wetgewing van ons land is duidelik: enige direkteur in enige maatskappy sou lankal agter tralies gewees het, as hulle maar ´n fraksie gedoen het wat klaarblyklik nie norm is in staatsondernemings.