Oostenryk mik na blits verkiesing

Sebastian Kurz, die nuwe leier van die konserwatiewe Volksparty in Oostenryk, het gesê dit is nodig dat die land ’n vervroegde algemene verkiesing hou.

Kurz het die afgelope naweek gesê hy beplan gesprekke met die twee politieke partye wat tans die regerende koalisie vorm.

Die twee politieke partye se verhouding het versuur en Kurz meen glo dat dit die nodigheid van ’n vervroegde verkiesing regverdig.

Kurz het reeds afsprake gemaak om gesprek te voer met die land se president, Alexander van der Bellen en kanselier Christian Kern.

Sebastian Kurz is die naweek gekies tot nuwe leier van die Volksparty nadat die visekanselier van Oostenryk, Reinhold Mitterlehner sy bedanking ingedien het.

Kurz dien tans ook in die koalisie regering as Minister van Buitelandse Sake, en word hoog aangeslaan in die politieke geledere van die land.

Tans heers daar spanning in Oostenryk weens die koalisie regering se verskille, en word die onsekerheid op politieke gebied regdeur die land aangevoel.

Minister Kurz het aan die media gesê hy is redelik seker dat Oostenryk binnekort ’n algemene verkiesing sal hou, maar hy verkies dat ’n blits verkiesing gehou word om die onsekerheid uit die weg te ruim.

Kurz word algemeen beskou as die jong opkomende ster wat met sy beleid van “wet en orde” die land weer tot kalmte kan bring.

Verskeie meningspeilings van die afgelope weke toon dat die Volksparty van sy posisie as derde grootste na die heel grootste kan spring onder die 30-jarige minister se leiding.

Foto – Sebastian Kurz