Ondersoek Zuma se geldsake heel eerste

Die sogenaamde FICA-wet is einde verlede week deur Jacob Zuma onderteken, alhoewel die datum van inwerkingtreding nog nie bekend is nie en eers in die Staatskoerant afgekondig moet word.

Ingevolge die nuwe wet moet banke politici en ander hooggeplaastes se geldsake ondersoek as daar twyfel is oor die bron van hulle rykdomme. Kritiek wat al op die wet uitgespreek is, is dat dit van banke aanklaer en regter maak.

Nietemin het VF Plus sy tevredenheid met die ondertekening van die wet uitgespreek en gevra dat Zuma se finansies sommer eerste ondersoek moet word. “Die ondertekening is nie goeie nuus vir Zuma en sy vriende wat deel is van die staatskaping nie. Dit is duidelik dat Zuma alles in sy vermoë gedoen het om die ondertekening solank as moontlik te vertraag en moes weereens eers deur ʼn hofaansoek gedreig word,” sê VF+ se leier, dr. Pieter Groenewald.

“Die Vryheidsfront Plus verwelkom die ondertekening en alle kabinetslede se finansies behoort ook ondersoek te word sodat belastingbetalers verseker kan word staatskaping word vasgevat,” sê dr. Groenewald.