Noordwes gesondheidsdienste in ellendige toestand

Verswakkende gesondheidsdienste in Noordwes raak ʼn ernstige probleem, en as daar nie dringend aandag aan gegee word nie, kan dienslewering vir gesondheid totaal in duie stort.

Mnr. Hannes Schutte, VF Plus-lid van Noordwes se provinsiale wetgewer, het sekere onthullings in die verband gemaak.

Hy wys daarop dat die Openbare Dienste-Kommissaris (ODK) vroeër die maand aan die staande komitee van wetgewersake rapporteer dat hospitaal- en kliniekdienste baie swak is in Noordwes.

Die rioolverwerkingsaanleg naby die drie jaar oue Moses Kotane-hospitaal werk nie. Geen instandhouding van die rioolaanleg word gedoen nie. Dit skep ʼn groot gesondheidsrisiko vir pasiënte en personeel.

Daar is geen lopende skoon water in sommige klinieke nie, terwyl puttoilette nog in gebruik is.

Lang wagtye vir ambulanse is aan die orde van die dag. By Ventersdorp hospitaal wissel dit tussen 2 tot 3 uur, terwyl dit in die Rustenburg en Brits se afgeleë gebiede tot 4 uur is.

Baie goeie gehalte toerusting is nie in ʼn werkende toestand nie, omdat daar nie geld is vir herstelwerk nie.

Die gebrek aan professionele personeel (dokters en verpleegsters) plaas groot druk op beskikbare persone wat lang ure moet werk. Gebrek aan etiek en dissipline het tot gevolg dat pasiënte nie behoorlik versorg word nie.