Noord-Korea terg VSA met missiel toetse

Pyongyang het weer ’n missiel lanseer gedurende die afgelope naweek, maar die middelafstand missiel het kort nadat dit opgestyg het, uitmekaar gebars en neergestort.

Die toets van Noord-Korea kom kort nadat die Verenigde Nasies ’n waarskuwing gerig het om die toets van ballistiese missiele te staak.

Die wêreld het asem opgehou vir die lansering wat kon lei tot ’n teenreaksie van die Verenigde State, maar die mislukte poging van die kommuniste was later deur verskeie lande as ’n daad van uitlokking beskryf.

’n Amerikaanse weermag woordvoerder, kommandeur Dave Benham, het die voorval bevestig en gesê die missiel het nie die gebied van Noord-Korea verlaat nie, en was dus nie ’n bedreiging nie.

Beijing het versigtig gereageer op die gebeure en die Sjinese minister van buitelandse sake, Wang Yi, het in reaksie gesê die gebruik van geweld sal nie die geskil tussen partye uit die weg ruim nie.

Die Sjinese minister het bygevoeg dat sy land nie as arbiter wil optree in die oostelike deel van Asië nie, en die sleutel tot ’n oplossing vir die kernwapen aangeleentheid in die skiereiland lê nie in die hande van Sjina nie.

Saterdag se mislukte toets in Noord-Korea het die spanning met Amerika verder verhoog, wat as ’n geweldige toets vir president Donald Trump gekom het.