Noord-Korea lanseer ballistiese missiel

Noord-Korea het Maandagoggend opnuut ’n ballistiese missiel lanseer wat weereens in Japanese seewater beland het.

Die owerheid van Suid-Korea het die inligting verstrek waarna die Japanse regering die voorval bevestig het.

Japan het sy ontevredenheid duidelik te kenne gegee nadat berig ontvang is dat die missiel gevaarlik naby aan die land se kus in die see beland het.

Noord-Korea het blykbaar die Scud-tipe missiel in die vroeë oggendure afgevuur vanaf die kusstad Wonsan.

Die projektiel wat in ’n oostelike rigting na Japan oor ’n afstand van 450 kilometer getrek het is die soveelste toets wat die kommuniste uitvoer te midde van Amerika se dreigende houding wat tot niks uitgeloop het nie.

Die Verenigde Nasies het intussen strenger sanksies teen Noord-Korea ingestel, maar dit is duidelik dat die land nie oortuig gaan word om af te sien van sy kernwapen program nie.

Japan se hoof van die kabinet, Yoshihide Suga, sê die missiel is ’n gevaar vir skeepvaart asook vir vliegtuie, en word ’n bedreiging vir wêreldvrede terwyl dit ook in stryd is met die Verenigde Nasies se resolusies.

Intussen word berig dat die kommunistiese Kim Jong-Un ook ’n geleentheid bygewoon het waar sy weermag ’n lugafweerstelsel getoets het.

Die afgelope toets van middel afstand missiele is die negende wat deur Noord-Korea uitgevoer is te midde van die wêreld se ernstige besware.