Motorrubriek – Suzuki Baleno 1.4 GLX

 

Die 2017 Suzuki Baleno is ‘n opgekikkerde weergawe van die vorige model en dit is 145 mm langer, 50 mm breër en hurk 50 mm nader aan die padoppervlakte. Dit weeg selfs 100 kg minder en dit is a.g.v. verbeterde samestelling en beter benutting van materiaal.

Op die oog af lyk dit dieselfde as die Swift maar die binne-afwerking en die lig toebehore is verander. Die kajuit is binne 87 mm langer wat tot gevolg het dat die beenspasie vir die agterste passasiers 70 mm meer is. Die kattebak ruimte kan twee derdes meer bagasie neem as die Swift maar die brandstofhouer se inhoudsmaat is met 5 liter verminder.

Met die dat dit nader hurk aan die padoppervlakte is die moontlikheid vir skade groter weens die toestand van die land se paaie maar aan die anderkant is die gewig verspreiding beter en dit het tot gevolg dat die padhouvermoë beter is. Die windsleur koëffisiënt is 0,229 en dit beteken dat die Baleno die Suzuki voertuig is met die minste windweerstand.

Voor word daar McPherson stutte met spiraalvere gebruik en agter word ‘n wringstaaf met spiraalvere en skokbrekers gebruik. Skyfremme is op al vier wiele gepas met ABS remme met EBA en EBD remhulp.Aantreklike16 duim allooiwiele is aangebring en om die buite prentjie verder af te rond word HID hoofligte gebruik, voor is kolligte gepas en aan die agterkant is daar sensors aangebring om moeitevrye parkering te verseker.

Om die veiligheid van die insittendes te verbeter is daar 6 lugsakke geïnstalleer en veiligheidsgordels is standaard vir voor en agter passasiers. Ander handige toerusting wat aangebring is, sluit in rigtingwysers in die buite spieëls, outomaties beheerde lugversorger, 6,2 duim aanraak skerm, spoedbeheer, sleutellose aanskakeling stelsel, reik afstandbeheer vir die stuurwiel, skakelaars om verskillende toerusting te beheer en nog talle ander handige toerusting. Die sitplekke is met materiaal bedek en dit is nie ‘n probleem om ‘n gemaklike sit posisie in te neem nie.

Wat die bagasie ruimte aanbetref is daar voorsiening gemaak vir gemaklike toegang. Dit is 32 cm diep en om meer pak plek te voorsien word noodwiel gebruik wat ‘n plek spaarder is. Die wiel gereedskap word saam met die noodwiel gebêre en wanneer die sitplek leunings plat gevou word is daar aansienlik meer plek beskikbaar.

Die kragbron is die beproefde 1373 kub. sentimeter, vier silinder inlyn, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep enjin wat in die Swift ook diens doen. 68 kW is beskikbaar teen 6000 o.p.m. en 130 Nm wringkrag is beskikbaar teen 4000 o.p.m. Brandstofverbruik is volgens toetse uitgevoer 5,6 l/100km en die brandstofhouer neem 37 liter. Die ratkas skakel moeite vry oor en op die oop pad en in die dorp is dit ‘n plesier om die Suzuki te bestuur.

As ‘n eerste of tweede motor is dit die ideale motor en voornemende kopers kan dit gerus vir ‘n toetsrit neem.