Motorrubriek – Lexus IS 200 tE

 

Sommige mense reken die Lexus is maar net nog ‘n Toyota. Dit is egter nie heeltemal korrek nie. Dit is inderdaad ‘n motor wat uit die Toyota stal kom maar dit is inderwaarheid ‘n luukse sportmotor sedan wat goed vergelyk met enige van sy Duitse mededingers. Toyota het egter sy stempel op die motor afgedruk want dit getuig van goeie bougehalte met die kragbron wat eintlik ‘n “kanniedood” verteenwoordig.

Wanneer die deur aan byvoorbeeld die bestuurder se kant oopgemaak word en jy skuif in en neem jou sitplek in, omvou die leerbedekte sitplekke jou en voel dit eintlik of jy op die rusbank in jou sitkamer gaan sit. Die nodige steun is op die regte plekke. Op die pad is die rygerief van hoogstaande gehalte en vergelyk dit goed met van die beste in die mark.

Die Lexus IS is al vir ‘n geruime tyd beskikbaar in SA maar was slegs beskikbaar met die gewone 3.5 liter kragbron of F-Sport voertuig. Vanaf Oktober 2015 is die IS 200t bygevoeg met ‘n 2 liter kragbron met ‘n turbo aanjaer in plek. Die enjin staan bekend as die 8AR-FTS enjin en is beskikbaar as die E of EX. Hierdie kragbron se boor en slag is dieselfde naamlik 86x86mm. Dit is ‘n inlyn, 16 klep VVT-iW, vier silinder enjin. Die engels vir die VVT-iW is “variable valve timing, intelligent, wide”. In kort beteken dit “veranderbare” klep tydspeling en wat daarop volg. Dit beteken die kragbron se werkverrigting verkeer of in die Otto Cycle vir maksimum krag of in die Atkinson Cycle vir beter brandstofverbruik. ‘n Agt spoed outomatiese ratkas sorg vir die krag oordrag na die agterwiele.

Onder gewone omstandighede wanneer die “Atkinson Cycle” in werking is, is die kraglewering 147 kW maar wanneer die “Otto Cycle” in werking tree, m.a.w. wanneer die kraglewering verhoog word deur die versneller teen die vloer plat te trap, verhoog die kraglewering na 180 kW teen 5800 o.p.m. Dan is die Lexus in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 7 sekondes en die topsnelheid is 230 km/u.

Binne in die motor is al die gerief en handige toerusting binne maklike bereikbare afstand. Die instrumente en panele is met swart glansmateriaal afgewerk, die instrumente is groot en duidelik leesbaar, die middel konsole is redelik hoog gebou en al die toerusting wat gebruik moet word, soos die rathefboom, pas maklik in die hand van die bestuurder. Beide die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en verwarm sodat dit gedurende die winter heerlik snoesig is.

Die Lexus kan met gemak vier persone neem en been- en kopspasie is gerieflik vir die agterste passasiers. Die bagasieruim neem 480 liter bagasie en wanneer die agterste sitplekke se rugleunings plat gevou word is daar nog meer laaiplek beskikbaar.

Die veiligheid van die insittendes is nie agterweë gelaat nie. ABS remme met die nodige ondersteuning is aangebring, outomatiese sluitstelsel sorg vir die sluit van die deure, daar is tien lugsakke wat onder meer lugsakke insluit wat op knie hoogte gemonteer is, voor en agter parkeersensors is geïnstalleer en nog talle ander handige toerusting is in plek gemonteer.

Voornemende kopers in die prysklas van R601900 kan gerus hulle naaste Lexus handelaar gaan besoek wanneer u ‘n nuwe voertuig wil aanskaf.