Merkel se wantroue verhoog teen Trump

Die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, het haar wantroue uitgespreek teen die Amerikaanse president na afloop van die mislukte G7 beraad op ’n Italiaanse eiland wat die naweek ten einde geloop het.

Merkel het in ’n verklaring gesê die tyd het aangebreek dat Europa moontlik nie meer sal kan staatmaak op ander as bondgenote nie.  Sy sê die bystand en ondersteuning van ander lande kan nie meer as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Die opmerkings kom nadat President Donald Trump geweier het om tydens die G7 beraad, Amerika te verbind tot die Parys ooreenkoms oor klimaatverandering.

“Die tyd waar ons volledig op ander kon reken, is nou verby, en so moet ons dit in hierdie dae ervaar dat Europa se lot in ons eie hande is”, het kanselier Merkel gesê.

Sy het bygevoeg dat vriendskap met Groot-Brittanje en Amerika nodig is, maar dat Europa hul eie stryd in die toekoms moet voer as Europese volke.

Merkel het vroeër haar misnoeë uitgespreek oor Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat, en het reeds verskeie kere in standpunt gebots met president Trump, maar het elke keer die onderspit gedelf.

By geleentheid het premier Theresa May in reaksie op Merkel se uitlatings oor Brexit, gesê Europa moet kennis neem dat Brittanje die hef in die hand het, wat daarop neerkom dat Brittanje kan besluit of hulle die EU rekening gaan vereffen.

Tydens die G7 beraad het Merkel weer haar teleurstelling getoon nadat Trump onversetlik was oor klimaatverandering, en politieke ontleders meen Merkel se invloed het skerp gedaal sedert president Trump en premier May op die politieke toneel verskyn het.

Die G7 lande het konsensus gehad oor handel, maar president Trump het geweier om tydens die vergadering sy steun te gee aan klimaatsverandering en gesê hy sal later sy mening gee oor die aangeleentheid.