Liberale Moon Jae-in word Suid-Korea president

’n Hoë stempersentasie is in Suid-Korea aangeteken met die verkiesing van ’n nuwe president in die plek van die afgesette president wat tans tronkstraf moet uitdien weens korrupsie.

Onbevestigde berigte lui dat ’n 90% stempersentasie bereik is deur die meer as 42 miljoen stemgeregtigde kiesers van die land.

Die afgesette president Park Geun-hye word vervang deur die wenner wat klaarblyklik ’n meer gematigde houding van toenadering met die kommunistiese noorde van Korea wil bewerkstellig.

Moon Jae-in (64) van die linkse Minjoo-party was die gunsteling, en die eerste uitslae het getoon dat hy die verkiesing gemaklik wen.

Met die ter perse gaan van die berig, was al die stemme getel, en die dag na die verkiesing is Moon Jae-in reeds ingesweer as die nuwe president van Suid-Korea.

President Moon Jae-in het onderneem om beter betrekkinge aan te knoop met die kommunistiese leiers in Noord-Korea, en is sterk gekant teen die Amerikaanse optrede om ’n missiel afweerstelsel te ontplooi ter beskerming teen ’n moontlike missiel aanval uit die noorde.

Foto – Moon Jae-in