Krisis kom vir Spaanse regering

Tot almal in Spanje se verbasing, is die verlinkse Pedro Sánchez weer opnuut verkies tot leier van die Spaanse Sosiaal Demokrate.

Pedro Sánchez  het verlede jaar verdwyn van die politieke toneel, maar wil nou wraak neem teen die minderheidsregering van die eerste minister, Mariano Rajoy.

Sánchez het nie die minderheidsregering van die konserwatiewe Rajoy aanvaar toe Spanje nie daarin kon slaag om na twee verkiesings ’n koalisie saam te stel nie.

Dit het daartoe gelei dat die parlement uiteindelik ingestem het dat die konserwatiewe premier mag voortgaan deur ’n minderheidsregering saam te stel.

Sánchez beoog nou om premier Rajoy uit die kussings te lig deur ’n koalisieregering saam te stel, maar daar bestaan onsekerheid of hy wel daarin gaan slaag aangesien die kleiner partye in Spanje nie bereid was om met hom saam te werk in ’n koalisieregering nie.

Politieke ontleders meen die nuwe tendens kan lei tot ’n nuwe politieke krisis in Spanje wat veel ernstiger kan wees as die vorige, toe Spanje nie daarin kon slaag om ’n regering saam te stel nie.

Pedro Sánchez se verkiesing tot leier het die Spaanse sosialiste verder na links geruk, en bestaan daar onsekerheid of die Spaanse kiesers daarvoor te vinde sal wees.

Intussen is verneem dat premier Rajou met die leiers van die ander politieke partye gesprek gevoer het, maar Pedro Sánchez nie uitgenooi het om teenwoordig te wees nie.

Foto – Pedro Sánchez (middel)