Is Franse minister Ferrand korrup?

Die Franse minister Richard Ferrand is onder hewige vuur omdat hy sy seun as parlementariërs assistent gehuur het.

Die media het die verwikkeling daarna gekoppel aan sy betrokkenheid by ’n huurtransaksie van ’n gebou waar sy vrou in 2011 ook ’n direkteur was.

Beide voorvalle word gekoppel aan moontlike nepotisme en word dit vergelyk met die optrede van die Republikein Francois Fillon wat sy vrou vergoeding betaal het toe hy eerste minister was.

Die gebeure met minister Ferrand het ’n ernstige verleentheid vir die nuutverkose Franse president, Emmanuel Macron, geskep en waarnemers meen die eise gaan kom dat die minister onverwyld sy pos ontruim.

Alhoewel dit nie groot finansiële implikasies het nie, meen Franse kiesers en opposisiepartye dat dit die begin van iets meer omvangryk kan word.

President Macron het vroeër daarop gewys dat dit nie wenslik is dat familie deur politici aangestel word nie en voorgestel dat die gebruik gestaak word.

Die president verkeer glo in verleentheid oor die aangeleentheid aangesien Ferrand sy sosialistiese vertroueling is wat hom van die begin gesteun het as kandidaat vir die presidentsverkiesing.

Met Junie se algemene verkiesing van parlementslede sal die voorval weer opspraak verwek en talle kiesers wat siek is vir korrupsie en nepotisme, twee keer laat dink voor hulle Macron se nuwe party steun.

Die Republikein, Christiaan Jacobs, het reeds gevra dat president Macron sy kabinet moet “skoonmaak” van oneerlike elemente, en Marine Le Pen, die leier van Front Nasionaal, het gesê die minister moet soortgelyke behandeling kry as ander oortreders en vervolg word.

Foto – Richard Ferrand