Hoeveel terroriste skuil in Suid-Afrika?

Die moontlikheid dat Suid-Afrika ’n aansienlike aantal terroriste in sy boesem huisves, het opnuut die wenkbroue laat lig toe die Valke 15 verskillende paspoorte van Suid-Afrikaanse “oorsprong” by ’n verdagte terroris gevind het.

Die Vryburger het reeds drie jaar gelede gerapporteer dat terroriste selle in Suid-Afrika funksioneer en klaarblyklik ook seker opleidingsprogramme aan rekrute lewer wat later volwaardig opgeneem word in bewegings soos Al-Kaïda en Islamitiese Staat.

Die verdagte by wie die paspoorte gevind is, en ’n lid van die Al-Sjabaab groep is, se naam is nie bekend gemaak nie.

Waarnemers wys daarop dat die vermoede steeds bestaan dat terroriste groepe besig is om werkloses in plakkerskampe te werf en op te lei, te midde van  hardnekkige gerugte dat Al-Sjabaab wel oor geheime kampe beskik in plakkerskampe rondom die groter stede van die land.