Hewige gevegte woed in Filippyne

Hewige gevegte het losgebars tussen die soldate van die Filippynse weermag en Islamitiese rebelle wat reeds die lewens van meer as 50 mense geëis het.

Die gevegte wat in die Filippynse stad Marawi woed, het tot gevolg dat tienduisende inwoners op die vlug geslaan het.

Die stad se burgemeester het ’n beroep op die weermag gedoen om in ag te neem dat baie mense op die vlug geslaan het uit vrees dat die soldate hulle om die lewe kan bring.

President Rodrigo Duterte het krygswet uitgeroep toe ’n honderdtal radikale Islamitiese stryders die stad wou oorneem.

Volgens ’n weermag woordvoerder is die rebelle afkomstig uit ander Asiatiese lande en word hulle verbind aan die Islamitiese Staat, en wou hulle ’n klimaat skep om die stad onder IS-beheer te kry.

Onbevestigde berigte lui dat die Filippynse weermag besig is om die Islamitiese Staat vegters uit te snuffel en dood te skiet, terwyl ander soldate die gevegte openlik voortsit teen gewapende rebelle.

Foto – Vlugtende inwoners