Grootste staking ooit verwag in Brasilië

Vakbonde en unies in Brasilië is besig met voorbereidings vir die grootste staking ooit wat in die land gehou is om te protesteer teen die beoogde pensioen- en arbeidhervorming in die land.

Woordvoerders van die vakbonde sê dit sal die grootste staking wees wat ooit in die geskiedenis van die land opgeteken gaan word.

Die hervormings word deur die konserwatiewe president Michel Temer (foto) se regering in die vooruitsig gestel.

Die Sentrale Werkers Unie se woordvoerder, Vagner Freitas, sê dit sal die grootste staking wees in die geskiedenis van die land, en bygevoeg dat die grootste aantal unies en vakbonde die staking gaan steun.

Die pad, spoor en lugverkeer sal glo tot stilstand kom met die staking, en kan Brasilië miljoene dollar kos, wat die land nie nou kan bekostig nie.

Volgens die unies se woordvoerders sal dit die eerste landswye staking wees wat gehou word in die afgelope 21 jaar..

Verlede Vrydag het die land se grootste finansiële sentrum, die stad Sao Paulo, ’n voorsmaak gegee van hoe dit sal wees toe al die openbare vervoer werkers hulle deure gesluit het wat die stad tot stilstand geruk het.

Rio de Janeiro het ’n soortgelyke aksie uitgevoer wat ’n ontwrigtende uitwerking op die vervoer gehad het.

Banke en ander sleutelondernemings het hulle deure gesluit, wat ’n uiters moeilike situasie geskep het en die kleinhandel ondernemings ernstig benadeel het.

Die eerste stakings het begin kort nadat die Laer Huis die hervormings goedgekeur het en wat beskou word as ’n geveg wat tussen die politici en die vakbonde sal wees.

Waarnemers sê die stryd sal gewen word deur diegene wat bereid is om die langste voort te gaan en sal ook gemeet kan word aan die finansiële vermoë van die vakbonde wat beoog om vir ’n onbepaalde tyd aan die staking deel te neem.