Gordhan haal handskoene af

In ‘n verrassende vertoning het die voormalige minister van fiansies, Pravin Gordhan, Eskom beskuldig van staatskaping en terselfdertyd minister Lynne Brown en Eskom se Ben Ngubane bygekom.

Gordhan, wat nou net ‘n gewone parlementslid is, dien nou op die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings. Sommer met sy eerste deelname aan die komitee het hy vir Browne gesê:  “Jy is deel van ‘n groep wat Eskom wil kaap sodat ‘n paar persone daarby kan baat”.

Molefe se heraanstelling deur Browne is volgens hom ‘n patroon van aanstel, afdank, aftree of nie-aftree of uittree nie.  Gordhan het ook gevra dat ‘n forensiese ondersoek gedoen moet word oor hoe en wie besluite neem by Eskom, en laastens ‘n beroep gedoen op die Raad van Eskom om te bedank.

Gordhan is deur die ANC aangewys om op die komitee te dien, en die feit dat hy besig is om op tone te trap van Zuma vriende, sal ontwikkelinge vorentoe interessant maak om te volg. Dit is duidelik dat Gordhan steeds ‘n klip in Zuma se skoen is.

Lynne Brown het intussen die hofuitspraak aanvaar waarin Molefe se heraanstelling tersyde gestel is.